Gepubliseer met toestemming van die anonieme klient – Pauli Geldenhuis

Vir die afgelope 16 jaar ontvang ek een of ander vorm van terapie. Daar was sielkundiges, beraders, psigiaters, pastore en klinieke. As ek vinnig moet skat, ongeveer 12 verskillende terapeute. Die doel van die meeste van hierdie terapeutiese prosesse was om so gou moontlik ontslae te raak van psigopatologiese gedrag en simptome, met die gevolg dat ek simptome moes begin wegsteek en voorgee dat ek “genees” is. Die gevoel van mislukking, onvermoë en innerlike swakheid het my so oorweldig dat ek meestal self met die terapeut getermineer het.

My patologiese gedrag is grootliks gemotiveer deur herinneringe van traumatiese ervarings. Ek het die terapeutiese proses begin bevraagteken en gaan oplees oor die rol van trauma in psigopatologie. In my soeke na iemand of iets wat verligting kan bring, het ek pessimisties ‘n afspraak met Pauli gemaak.

Haar aanslag was heeltemal anders en al het ek haar nog nie vertrou nie, het ek besluit om die proses ‘n regverdige kans te gee. Dit het opwindend geklink om iets heeltemal anders te probeer en daar was nie veel om te verloor nie. Pauli het my van die begin af verseker dat sy bereid is om die terapeutiese pad met my te stap. Op hierdie stadium het ek my vertroue in terapie verloor, maar was geïnteresseerd in haar metodes en tegnieke.

Die fokus van ons proses is om gefragmenteerde ego-state te integreer, met behulp van verskeie tegnieke (S/E, BWRT, EMI, TRE) en vir die eerste keer het ek myself begin verstaan. Ek is al gediagnoseer met Major Depression, Generalized Anxiety Disorder, Social Anxiety Disorder, Bulimia Nervosa, EDNOS, Bipolar Mood Disorder, Borderline Personality Disorder, Dissociative Identity Disorder en Avoidant Personality Disorder. Hoewel ek kan identifiseer met sommige van hierdie geestesongesteldhede, het ek by Pauli begin besef dat my simptome dalk die gevolg kan wees van Postraumatiese Stresversteuring, ‘n diagnose wat my nie mal laat voel nie.

Hoewel dit steeds soms vir my moeilik is om gemaklik te raak met liggaamsgebaseerde terapie, het Pauli dit reggekry om ‘n veilige omgewing te skep waarbinne ek die moed gekry het om te begin eksploreer. Ons het TRE en BWRT probeer. Dit was verligtend om te weet ek hoef nie traumatiese gebeurtenisse oor te vertel nie en net die proses en my liggaam moes probeer vertrou. Vir die eerste keer het ek toegelaat dat ‘n terapeut aan my raak en ek begin die waarde van liggaamsgebasseerde terapie insien.

Reeds van die begin van ons terapeutiese proses het Pauli my vertel van Somatic Experiencing. Hierdie tegniek het my begin bewus maak van die  gewaarwordings in my liggaam, veral wanneer ek angstig is of dissosieer. As gevolg van hierdie terapeutiese metode word dit vir my makliker om nie oorweldig te word deur angs of paniek nie. Ek leer om te begin selfreguleer en vrede te maak met die sensasies in my liggaam, sonder om dit te probeer analiseer of oordeel.

Die terapeutiese pad met Pauli daag my uit en gee my moed om nie so bang te wees vir die seer nie. Vir die eerste keer het ek regtig begin bewus raak van hoe my liggaam met my probeer kommunikeer en hoe belangrik hierdie kommunikasie is ten tye van veg, vries of vlug. Ek het nooit besef tot watter mate die effek van trauma my liggaam affekteer nie. Ek is minder bang vir die paniek. Ek begin my liggaam vertrou. Die proses is nie altyd maklik nie, maar na vele mislukte terapeutiese prosesse verstaan ek myself soveel beter. Ek sien die resultate en vertrou die proses, want ek weet nou dat ek meer is as net ‘n diagnose en dat die trauma nie vir altyd besluite namens my hoef te neem nie.